-->

Nuts and bolts rally - Dag een

Wednesday 23 September 2015

Die vier dag avontuur het vroeg oggend, of dalk eerder 09:30 afgeskop in Malmesbury in die Weskaap. Dit was die wegspring punt vir die eerste dag van die nuts & bolts rally en die spanne het by die skougronde bymekaar gekom. Die spanne was gereed. Die karre is opgemaak, gesticker en gepak (met proviant en ekstra parte) vir die reis deur die Wes- en Noordkaap. Daar was ou karre en nog ouer karre, karre met snaakse sê goed op en karre wat opgedress is vir die trippie. Almal het mekaar voorgestel maar tog geweet dat jy later weer gaan vra vir 'n naam - daar was heeltemal te veel om te onthou en geen geheue oefening sou jou kon red nie. Dit was lekker om almal te ontmoet en mee te gesels en te hoor waar hulle vandaan kom, almal het tog mos maar 'n storie. Natuurlik het die karre hulle eie stories vertel van tye wat reeds verby is en reise wat vir altyd onthou sal word.




Ek was in span 35 saam met Marius, my man. Hy was oorspronlik in span 21 maar omdat ek my toon se ligament geskeur het 'n paar dae voordat ons vertrek het, het ek hom gedecommission om vir my te bestuur en rond te ry. Net totdat my toon beter gevoel het. Ons het saam gelag oor die karre en die mense met hulle vreemde (vir 'n Gautenger) aksente en grappies. 



Die woorde: "Gentlemen start your engines!" het die begin van die rally aangekondig. Ons het deur die strate van Malmesbury gery en omtrent die koppe laat draai. Die volgende stop was Darling. 



Die kinders van die privaat skool het ons ingewag en gewaai en foto's geneem kompleet asof ons 'n maraton hardloop. Mense in die stad doen nie sulke goed nie, julle moet verstaan dat hierdie 'n special traan in die oog oomblik was. Vir ons is dit net so vreemd soos wat 30 karre is wat deur hulle dorp ry en 'n nuts & bolts rally doen. Wat wou ...




Ons het gaan bier proe (en drink!) by Darling Brew, die brouery op die dorp. Hulle spog met 'n groot verskeidenheid bier wat nogals goed afgaan op 'n warm dag en heel moontlik op 'n koue een ook! Gaan lees gerus hul storie hier: http://www.darlingbrew.co.za/index.html




Vir brunch het ons gaan eet by die Plaasmol padstal buite Hopefield. 

Elke span moes 'n geskenk, van lae rand waarde, saam bring en ons het dit hier uitgeruil. Ons het 'n helderkleurige bos (plastiek!) blomme gekry wat ons op die roofrack vasgemaak het (en dit het gehou vir die hele trip). Party spanne het bok horings gekry en dan was daar natuurlik, Kerneels. Die perdjie was bo op Burt se beetle vasgemaak en was soms vrygelaat om bietjie te wei. 







Ons het deur dorpies gery waarvan ek nog net gehoor het soos Aurora. Ek en Marius het gedink ons gaan net deur die dorp ry, maar tot ons verbasing het die manne van die Kaap van 'n geheim geweet. Daar is 'n kroeg op die dorp. Dit laat mens dink aan 'n outydse saloon. 







Van daar af het ons kus langs gery verby Redelinghuys en Lambertsbaai tot in Strandfontein. Die Pikinini (span 21) het geleer om nie vinniger te probeer ry as wat hulle wiel verby rol nie.











Die kampeer terrein was ons eind bestemming vir die dag. Na 'n dag van baie ry en baie stof was die uitsig verseker die moeite werd. Die lug was geverf in skakerings van rooi en oranje met die weerspieëling wat oor die diep donker water skyn. 





Ons het soos konings geëet aan 'n spitbraai en potbrood, met botter en konfyt. Behalwe vir sjokolade en 'n lekker bottel rooiwyn is daar niks lekkerder op aarde nie. Ons het vroeg gaan inkruip en die kamp het mettertyd stiller geraak. Ons het wakker geword van water druppels wat van die tent af drup ... Dit was die tweede dag.

0 comments:

Post a Comment

 
template design by Studio Mommy (© copyright 2015)